Uitsaaidatum: 3 November 2025
Gaste: Dr Melané van Zyl – Lid van die Suid-Afrikaanse Vereniging van Psigiaters
Gashere: RSG Radio


Inleiding:

Suid-Afrika staar ’n ernstige geestesgesondheidskrisis in die gesig — volgens die Suid-Afrikaanse Vereniging van Psigiaters het tot 92% van Suid-Afrikaners met geestesgesondheidsuitdagings geen toegang tot behandeling of hulp nie. Die gevolge hiervan strek veel verder as individuele lyding; dit het ook ’n groot impak op die land se ekonomie en gemeenskappe.

In ’n onlangse onderhoud op RSG se Op en Wakker het dr. Melané van Zyl, psigiater en lid van die Vereniging van Psigiaters, die omvang van die krisis en moontlike oplossings bespreek.

RSG se Op en Wakker met dr. Melané van Zyl

by Dr Melané van Zyl – Lid van die Suid-Afrikaanse Vereniging van Psigiaters

’n Tekort aan hulpbronne en die impak op mense

Dr. van Zyl verduidelik dat die behandelingsgaping grootliks spruit uit ’n tekort aan hulpbronne:

“Die rede hoekom daar so ’n groot behandelingsgaping is, is dat ons eenvoudig nie genoeg hulpbronne het nie. Daar is nie genoeg dokters, sielkundiges, hospitale en daardie tipe bronne nie.”

Benewens beperkte hulpbronne sukkel baie mense om die koste van vervoer of behandeling te dra. Sosio-ekonomiese faktore en stigma maak die situasie selfs moeiliker.

“Party van ons bevolkingsgroepe is nog meer kwesbaar vir stigma. Baie van ons pasiënte is getraumatiseer. En daar is nie altyd duidelike verwysingspaaie nie. Mense weet nie waar om te begin om hulp te soek nie.”

Die gevolge hiervan is verwoestend — nie net vir individue nie, maar vir gesinne en die breër samelewing. “Baie keer word die toestande dan ál meer kronies, en mense kan nie meer werk nie… Die familie self voel hulpeloos, hulle brand uit, hulle dra onder die stigma,” sê sy.


’n Globale uitdaging met plaaslike implikasies

Hoewel die situasie in Suid-Afrika besonder ernstig is, wys dr. van Zyl daarop dat dit deel van ’n wêreldwye probleem is wat verband hou met beleidsvorming en gesondheidsprioriteite.

“Ons as psigiaters het reddingsplanne probeer maak — hoe ons mense kan bystaan, hoe pasiënte hulleself kan help, en hoe dokters en mense wat behandel ook kan help. Maar aan die einde het ons die regering nodig, en die regte prosesse en beleide moet in plek gestel word.”


Toeganklikheid bly die kern van die uitdaging

Dr. van Zyl beklemtoon dat die krisis nie net gaan oor die tekort aan psigiaters nie, maar oor toeganklikheid tot sorg, veral in landelike gebiede.

“Suid-Afrika is ’n groot land. As jy in ’n landelike omgewing bly en jy is ver van hulp af, beteken dit dat mense hulp moet kry waar hulle is. Ons moet sisteme in plek stel waar mense in die gemeenskap in staat gestel word om mekaar en ons pasiënte te kan help.”

Sy gebruik die Oos-Kaap as voorbeeld, waar gesondheidsbegrotings dikwels op hospitale gefokus is terwyl mense in afgeleë gebiede eenvoudig nie daar kan uitkom nie. “Hulle het nie geld om te reis nie; daar gaan niemand ’n ambulans stuur nie… hulle moet nog stigma trotseer,” verduidelik sy.


’n Gemeenskapsbenadering as deel van die oplossing

Ten spyte van die uitdagings, glo dr. van Zyl dat realistiese oplossings wel moontlik is — mits daar gefokus word op opleiding, samewerking en gemeenskapsbetrokkenheid.

“Ons glo wel dit is realisties. Dit gaan nie maklik wees nie — beslis nie. Dit is ’n enorme taak. Maar almal wat in die professie staan, is reeds opgelei, of hulle weet waarvoor hulle ingeteken het.”

Sy benadruk die noodsaak om gesondheidswerkers toe te rus met die regte vaardighede:

“Hulle moet self weet hoe om stigma te beveg. Hulle moet weet hoe om ’n stigmavrye omgewing te skep vir mense wat na hulle toe kom. Die belangrike aspek wat moet gebeur, is by die eerste kontakpunt — wie ook al daardie persoon eerste sien, moet kan sif en weet hoe om te verwys.”


’n Positiewe pad vorentoe

Hoewel Suid-Afrika ver onder die Wêreldgesondheidsorganisasie se aanbevole standaarde vir geestesgesondheidswerkers val, bly dr. van Zyl hoopvol:

“Ons is baie onder die standaarde… maar ons moet net positief bly en aanhou vorentoe beweeg — al lyk dit so sleg.”


Slotgedagte

Dr. Melané van Zyl se boodskap is duidelik:
Die oplossing vir Suid-Afrika se geestesgesondheidskrisis lê nie net in meer dokters nie, maar in toeganklike sorg, beter opleiding, beleidsverandering en ’n gemeenskapsgebaseerde benadering.

As gemeenskappe, gesinne en beleidmakers saamwerk, kan ons begin om die gaping te verklein — en ’n stelsel bou waarin niemand sonder hulp hoef te leef nie.

Share this ...