Die eindfluitjie het geblaas, die span het verloor en jou kind klim stil in die motor. Jy wil help. Jy wil iets bemoedigends sê, of dalk net vinnig deur die wedstryd gaan om te kyk wat verkeerd geloop het. Miskien is die beste ding om op daardie oomblik eers niks te sê nie.
In gesprek met EJ Schwartz op Radio Riverside het Dr Melané van Zyl, psigiater by Sandton Mediclinic en raadslid van die Suid-Afrikaanse Vereniging van Psigiaters (SASOP), gesels oor wat gebeur wanneer die druk om te wen groter word as die doel van sport. Haar fokus was veral op die gesprekke tussen ouers en kinders: wanneer om te praat, hoe om te luister, en watter boodskap ‘n kind moet hoor ongeag die uitslag.
“Mens moet hulle kan gerusstel dat hulle steeds deel van die gesin is, en dat mens lief is vir hulle, en dat hulle nie gelyk is aan hoe goed hulle presteer nie,” het Dr van Zyl gesê.
Wanneer prestasie identiteit word
Dr van Zyl begin by die goeie nuus: sport is goed vir kinders. Dit bevorder hul fisiese gesondheid en leer hulle dissipline en spangees. “Die probleem kom wanneer die wen die belangrikste deel word, en wanneer die prestasie vermeng raak met die identiteit,” verduidelik sy.
Dan is ‘n swak wedstryd of ‘n besering nie meer net ‘n terugslag op die sportveld nie. Die kind begin voel hy of sy is ‘n swak mens, of eenvoudig nie goed genoeg nie. Omdat tieners terselfdertyd akademies moet presteer en sosiaal ontwikkel, plaas dit volgens haar baie druk op hulle.
Vra eers wánneer jou kind wil praat
Een van Dr van Zyl se mees praktiese raadgewings is ook een van die eenvoudigste: “Ouers moet dalk ook maar vra wánneer die kind wil praat.”
Ná ‘n opwindende naweekwedstryd is ouers geneig om dadelik daaroor te wil gesels. Die kind wil egter dalk eers stilbly of ‘n rukkie alleen wees. Ouers moet eerder die tyd en plek skep waar die kind met vrymoedigheid kan praat, en dan vra: Geniet jy dit nog? Wat was lekker? Wat was moeilik?
Die gesprek behoort nie net oor die telling, die tegniek of die uiterlike dinge te gaan nie, maar oor wat vir die kind self belangrik is.
Luister na die onderhoud:
Jong sportlui, druk en die gesprek ná die wedstryd
Wees gereed vir antwoorde wat jy nie wil hoor nie
Om werklik te luister, beteken ook om oop te wees vir ‘n antwoord wat jy nie verwag het nie. “Ouers moet ook dalk voorbereid wees om antwoorde te kry wat hulle nie wou hê nie,” sê Dr van Zyl. Dalk wil die kind minder sport doen, ‘n bietjie ophou, of iets heeltemal anders probeer.
Vir ouers wat jare se tyd, geld en energie in hul kind se sport belê het, kan dit moeilik wees om te hoor. Juis hoe ‘n ouer op so ‘n antwoord reageer, wys vir die kind of hy of sy net gewaardeer word as ‘n sportster, of as ‘n mens.
Moenie beloftes maak wat jy nie kan hou nie
Nie elke kind word vir die span gekies nie, en nie elke wedstryd word gewen nie. Wanneer teleurstelling kom, is dit belangrik om te besef dat dit vir die kind waarskynlik ‘n groot teleurstelling is, en om mooi te luister. Volgens Dr van Zyl moet die kind die boodskap kry dat ons verstaan wat vir hom of haar belangrik is, en dat dit oukei is om teleurgesteld te voel.
Wat ouers moet vermy, is om die gevoel af te maak met “ag toe maar, volgende keer gaan dit beter”. “Mens kan nie eintlik sulke beloftes maak nie; mens weet nie wat in die toekoms gaan gebeur nie,” sê sy. Kinders het dikwels baie vir hul sport opgeoffer, en hul teleurstelling verdien om ernstig opgeneem te word. Die belangrikste is dat hulle weet hul welstand tel meer as die wen, en dat niks daaraan verander as hulle nie so goed doen nie.
Kyk verder as die telbord
‘n Kind wat goed presteer, is nie noodwendig ‘n kind wat goed gaan nie. Dr van Zyl waarsku dat jong sportlui, veral op ‘n hoë vlak, leer om uiterlik te bly presteer, al gaan dit innerlik nie goed nie. “Mens kan dus nie net kyk na die prestasie en hoe dit van buite af lyk nie,” sê sy.
Let eerder op gedrag op ander gebiede: Geniet die kind nog dinge? Eet en slaap hy of sy genoeg? Is daar geïrriteerdheid of moedeloosheid? As ‘n kind begin praat dat niks meer lekker is nie, of dat hy of sy nie meer wil lewe nie, is dit tyd om dadelik professionele hulp te kry.
Liefde wat nie van die telling afhang nie
Sport kan kinders baie leer, maar die belangrikste les kom dikwels nie van die afrigter nie. Dit kom van die motorrit huis toe, die gesprek by die etenstafel en die manier waarop ouers reageer wanneer dinge nie volgens plan verloop nie. ‘n Kind wat weet hy of sy is geliefd, of die span wen of verloor, het ‘n veilige plek om te groei, te misluk en weer te probeer.
Waar om hulp te kry
As jy of iemand wat jy ken sukkel, bied die Suid-Afrikaanse Depressie- en Angsgroep (SADAG) ‘n omvattende webwerf en hulplyne: www.sadag.org
– Hierdie artikel is gebaseer op ‘n onderhoud met Dr Melané van Zyl, raadslid van die Suid-Afrikaanse Vereniging van Psigiaters, op Radio Riverside 98.2 en 98.6 FM.